Jy moet doen wat JY moet doen!!

Uncategorized

Hier is ons nou aan die einde van 35 dae en ek kan nie half help om bietjie terug te dink aan die afgelope 5 weke nie. Wat het ek nou eintlik in hierdie tyd gedoen? Ek het verseker elke dag ‘n paar fotos geneem en verslag gelewer op sosiale media. Dalk ‘n paar mense geirriteer, dalk ‘n paar mense gemotiveer, wie weet, maar weet jy, dit het my aan die gang gehou.

Ek is seker daar is ‘n hele paar mense wat sommer baie vinnig ‘n lys gemaak het van goed wat hy/sy vir die volgende 21 dae kan doen toe die nasionale inperking aangekondig is. Ek weet ek het verseker dadelik aan dinge begin dink. Ek sal iets moet doen om besig te bly.

Hierdie is die perfekte tyd om ‘n 21 dae online kursus te doen om ‘n nuwe taal te leer. Hierdie is die perfekte tyd om elke dag te oefen Hierdie is die perfekte tyd om te begin mediteer. Ek kan ‘n paar kilos verloor, ‘n boek of 2 lees, ‘n puzzle bou en klere maak. Hiedie is die perfekte tyd om als te doen waarby ek nooit uitkom nie en nie die sogenaamde tyd het nie. Hierdie is die perfekte tyd vir al daardie dinge.

Met ‘n nie so groot skok is ons by die eerste dag na lockdown en omtrent al daardie goed is nie godoen nie. Ek het verseker nie elke dag 20 keer om die huis gehardloop nie, ek het nie elke dag Rolene Strauss se 21dae lockdown challenge oefeninge, wat ek so graag wou gedoen nie, ek het nie die 3 kilos om my heupe verloor nie, ek het inteendeel die 3 kilos bygekry. Ek het nie ‘n nuwe taal geleer nie, ek het nie 2 boeke gelees nie en ek het nie ‘n painting klaar gemaak nie.

Beteken dit ek het gefail in lockdown want hierdie is die perfekte tyd vir al hierdie dinge. Ja weet jy, ons is helemal reg, hierdie is die perfekte tyd om daardie goed te doen, maar volgende maand is ook die perfekte tyd hiervoor.

Mens is so geneig om vir jouself onmoontlike doelwitte te stel. Jy sit jouself onder geweldige druk en as jy nie jou doelwit bereik wanneer en hoe jy wil nie, is jy teleurgsteld in jouself. Jy moet ophou so hard wees op jouself. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek glo daarin om ‘n doelwit te hê en dit na te streef, maar “I mean”, ons was in lockdown. Ons is in ‘n tyd van ons lewe waar dinge NIE normaal is NIE.

Ek het so 2 weke terug ‘n artikel gelees waar Marciel Hopkins vertel dat dit okay is om gewig op te tel tydens lockdown. Hierdie artikel het vir my so ongelooflik baie beteken omdat ek so ge-worry was oor presies dit. Sy het gepraat van hoe ons elkeen iets moet laat gaan net om kop bo water te hou, en elkeen se iets gaan anders wees. Nie lank daarna nie het ek met iemand gesels wat so frustreed is om almal se oefen videos op sosiale media te sien, haar oorwinning vir die dag was net om te stort.

My ma het na week een gesê, oe jinne, ek wil nog so baie goed doen, en daar is net 14 dae oor. My woorde aan haar was dadelik, daar is nog tyd. Ja ek weet daar is ook die cliche van “ons tyd op aarde is min, doen dinge nou daar is dalk later nie tyd nie”, maar as jy nou rerig nie een van hierdie doelwitte in lockdown bereik het nie, is dit rerig okay!! Jy het nog tyd om hierdie dinge te doen.

Ek het nie die dinge gedoen wat ek wou nie, maar ek het elke dag opgestaan, gestort en grimering aangesit.

Dit is die 3 basiese goed wat ek moes doen om lockdown te oorleef, en dis fine.

As jy elke dag moes oefen om lockdown te oorleef, dan well done, dan is dit wat jy moes doen.
As jy die lockdown tydperk moes gebruik om regtig net lui te wees en te rus, en jy het gerus, dan well done, dit is wat jy moes doen.
As jy super gesond geëet het om te oorleef, dan is dit wat jy moes doen.

Dit is okay as jy nie elke dag om jou huis gehardloop het nie, dit is ook okay as jy elke dag om jou huis gehardloop het.

Dit is okay as jy nie 5kilos in lockdown verloor het nie, dit is ook okay as jy 5 kilos in lockdown verloor het.

Dit is okay as jy nie 3 boeke gelees het nie, dit is ook okay as jy 3 boeke gelees het.

Dit is okay as jy nie die nuwe taal geleer het nie, dit is ook okay as jy die nuwe taal geleer het

Dit is okay as jy nie elke dag normale tyd opgestaan het nie, dit is okay as jy elke dag jou normale tyd opgestaan het.

Dis is okay as jy pajama dae gehad het, dis okay as jy nooit pajama dae gehad het nie.

Dis okay as jy meeste van die tyd voor die TV gelê het, dis okay as jy nooit TV gekyk het nie.

Dis okay as jou kinders jou mal gemaak het, dis okay as jy jou kinders heeltyd besig kon hou.

Dis okay as jy en die familie vasgesit het, dis okay as jy en die familie die beste van die tyd gemaak het.

Dis okay as jy negatief was, dis ook okay as jy positief was.

My punt wat ek probeer maak is, dit wat jy gedoen het is en was reg. Moenie so hard op jouself wees nie. Lockdown was, ek glo ‘n eerste vir ons almal. Ons is nie gewoond daaraan om 24/7 in die huis te moet wees nie. Die land het basies gaan stilstaan. Dat baie mense hulle inkomste verloor en gespanne is van wat volgende. Hierdie is nie vir ons normaal nie. So ons elkeen moes ons eie ding kry wat hom aan die gang hou en lockdown te laat oorleef.

Ek het gehoop myne was om elke dag ten minste te oefen en met ‘n paar kilos ligter hier uit te stap, maar op die ou end was dit om elke dag my gesiggie aan te sit en fotos te neem. Ek het nog genoeg tyd om my taal te leer, my painting klaar te maak en die gewiggies af te skud, gelukkig hoef ek nou nie meer 20 keer om die huis te hardloop nie, maar ek kan dit tussen 6 & 9 in die straat doen.

Ek sê weer, moenie so hard op jouself wees nie. Lockdown is nou verby, ons is nog nie helemal terug by normaal nie, maar we’re getting there. Ek moet doen wat EK moet doen en jy moet doen wat JY moet doen!!

My Mapstieks liefde
xx

Justine – Vir jou gaan ons bitter baie mis!!

Uncategorized

Justine, jy met jou mooi hart en sagte persoonlikheid, sou vinnig empatie gehad het en ‘n traan moes afvee as jy gehoor het van die mamma wat 11 dae voor haar dogtertjie se 1ste verjaarsdag net nie wakker geword het nie.
Jy sou kwaad gewees het vir die lewe want hoekom gebeur slegte dinge met goeie mense. Hoekom is dit nodig dat mense in een week ‘n begrafnis en ‘n 1ste verjaarsdag moet hou?

Jy sou die seer gevoel het.

Hierdie tipe ding lees mens net van in die nuus of jy sien dit in flieks. ‘n Mamma wat skielik oorlede is en net die pappa en baba dogtertjie wat oorbly. Dit is half 2 dimensioneel, daar is net ‘n naam en ‘n foto, maar mens kan geen persoonlikheid daaraan koppel nie, geen geskiedenis of persoonlike verhouding nie. Dit voel net nie real nie, totdat dit met jou gebeur, sodra jy ‘n naam, persoonlikheid, geskiedenis, herinnering aan die persoon kan koppel word dit eers real. Dit voel vir my of ons ‘n fliek kyk, asof ons nou klaar gaan huil en julle gaan bel om te vertel van die vreeslike hartseer fliek wat ons gekyk het. Ons kan nie eers pause om tissues te kry en tee te maak nie, want die tissues en tee is al op. Ons moes al nuwes gaan koop. Die bure het al kos gebring, sy baas se vrou was die eerste tannie wat die famous lasagne gebring het en die huis is natuurlik vol blomme. Moet my nie verkeerd verstaan nie, mens is dankbaar vir hierdie mense en hul lasagne, want in daardie oomblik het jy glad nie ‘n eetlus nie, nevermind om nog te dink aan kos maak. Maar dit is nodig, mens moet aangaan. Die lewe moet ongelukkig aangaan.

Hier is ons, ongelukkig nie besig om ‘n fliek te kyk nie, ongelukkig kan ons nie van die nare droom wakker word nie. Ongelukkig gaan jy nie enige oomblik by die deur instap en ons almal vergesel met jou mooi glimlag nie. Ongelukkig het jy nie daardie oggend wakker geword nie. Daardie oggend wat ek dink nie een van ons sommer sal vergeet nie, veral hy. My hart bloei vir my boetie en julle dogtertjie en hoe hulle lewe die oggend van
10 Maart 2020 drasties verander het nie! Nooit sal ek ooit gehoop het my boetie moes my met daardie
verskriklike woorde gebel het nie.

Justine, hierdie maand dra ek op aan jou. Ek wil hê almal moet weet watse ongelooflike vrou jy was. Ja ons het mekaar so min gesien en ek is rerig jammer dat ons nie meer moeite gedoen het om by julle uit te kom nie. Ja ons way of doing was anders, ja ons was albei maar in ‘n manier moeilike mense, maar jy het my boetie lief gehad, jy het hom geleer wat liefde is. Jy het hom gelukkig gemaak. Jy was sy beste maatjie, sy vrou, sy bloomis. Jy het vir hom en ons ‘n stukkie van jouself agtergelaat en die mooiste klein Karla gegee!! Dankie dat jy vir hom ‘n rede gegee het om in hierdie vreeslike moeilike tyd aan te hou. Dankie vir wie jy was in ons en veral Bertus se lewe!! Dit was ‘n groot voorreg om jou vir ‘n rukkie deel van die familie te kon hê, jy sal altyd ons liewe Justine bly.

Justine hierdie huldeblyk is eg aan wie jy was!!

Op 29 Mei 1991 het die wêreld vir ons almal bietjie meer betekenis gekry. Justine is gebore. Party was bevoorreg genoeg om haar van dag een af te kon ken en party moes bietjie wag tot die tyd reg was om hierdie juweel te kon ontmoet.

Ek het bietjie gaan oplees oor die betekenis van die naam Justine. Dit was natuurlik vir my baie opvallend en ek glo nie met toeval dat haar naam VIR HAAR so mooi uitgeknip was. 

Justine is Fair, Rightous, sleek and sophisticated en ek dink julle almal sal met my saamstem, hoe ‘n natuurlike ingebore sophistication sy gehad het. Of dit nou in ‘n kortbroek, bootse of kamoefleerpak op die plaas was,
of opgedollie vir ‘n troue – sy het die sophistication oral saam met haar gedra. Sy was ‘n dame wat oral waar sy gaan, ‘n stukkie juwele gedra het en vroulikheid uitgestraal het.

As mens aan juwele dink, is jou eerste gedagte WOW, dis MOOI en hoe akkuraat was hierdie gedagte nie vir ons elkeen gewees, die dag toe ons hierdie juweel ontmoet het, WOW Justine is mooi. Ek kon nooit verstaan hoe mense van iemand praat as ‘n juweel nie. Wat die betekenis daarvan is nie, maar die laaste paar dae het hierdie vir my net in oormaat duidelik geword.

Diamante, Pêrels, Goud, Silwer – alles materiaal waarvan juwele gemaak word en alles so sinoniem aan, blink, mooi, sterk, indrukwekKend, gesofistikeerd. Dit is sag, maar het tog so groot impak in jou lewe.
Dis prEsies wie en wat Justine was, ‘n sagGeaarde vrou met ‘n ongelooflike mooi hart, ‘n juweel in elkeen van ons se lewe.

Mense dra juwele omdat dit hulle laat goed en gelukkig voel. Om haar in jou teenwoordigheid te hê het beteken jy is gelukkig, julle het gelag,
jy het goed gevoel want Justine is hier.

Juwele is mooi en daarom word dit gedra. Ons almal was trots om hierdie juweel deel van ons lewe te kon hê. Justine met haar donker hare was beeldskoon, sy het haarself versorg en so mooi na haarself gekyk.

Juwele is mooi. Justine was mooi. Juwele is sterk. Justine was sterk.

Hoe sterk dink ek het nie een van ons in hierdie tyd van hoofpyn en sleg voel besef nie. Haar kollegas getuig, hoe selfs haar laaste uitstap by die werk oppad dokter toe, met ‘n glimlag op haar gesig was.

Juwele word vir ander met liefde as ‘n geskenk gegee. Justine was liefde.
Sy het liefde uitgestraal en vir almal om haar liefde in oorvloed gegee. Haar liefde vir diere was bewonderendswaardig. Sy het elke nou En dan Bertus laat belowe om die een of ander siek of alleen bokkie, eekhoring of diertjie huis toe te bring om seker te maak, hy word met soveel liefde versorg.

Dit sluit wel nie die dag in toe Bertus die slang wat in die huis gevind is, in die veld wou vrylaat. Sy was summier kwaad en het net bly sê die slang moet dood, of soos in haar eie woorde “Die Bybel sê, jy moet die slang se kop vermorsel”. En weereens is daar net lekker saam met haar gelag.

Justine was nog meer lief vir haar eie honde. As mens by hulle huis instap, sien jy sommer by die ingang, op die stoep, om elke hoek en draai matrassies vir die honde.

Justine was net so lief vir ander se diere.

Ons almal moes maar styf vashou as Justine kom kuier, want as sy nie self hulle in die kar wil laai nie, sal die hond, wat die hele tyd op Justine se skoot gesit het, baie maklik saam met haar in die kar spring, reg om saam na haar en Bertus se huis te gaan.

Mense dra juwele omdat dit betekenis het. Elkeen het so baie vir Justine beteken en sy soveel meer vir ons. Sy het diep spore in baie mense se lewens getrap en van die begin af harte gesteel.

Juwele is ook ‘n teken van herinnering. So baie onvergeetlike herinneringe is saam met haar geskep, of dit nou langs die viswater, op die strand, langs die vuur, in die natuur tussen die berge, in die kantoor, of saam met ‘n heerlike familie of vriende kuier, hierdie juweel was deel van so baie mense se spesiale herinneringe.

Juwele word in die vorm van ringe gedra as ‘n betekenis van die huwelik wat verbind word. Sy was net so lief vir jag, visvang en die buitelewe en is perfek uitgekies vir Bertus. Die huwelik is tussen hulle verbind en al was albei selfs soms maar lekker hardkoppig, was hulle ongelooflik lief vir mekaar en kan ek nie aan ‘n beter pasmaat vir Bertus dink nie.

Justine was sy vrou, ‘n dogter, ‘n sussie, niggie, vriendin, kollega en natuurlik ‘n mamma … Wat ‘n pragtige juweel mamma!! Jy het ‘n stukkie van jouself agtergelaat. Justine dankie vir die pragtigste klein poplap Karla, met die strawberry blond hare soos jy dit beskryf het. Sy bring soveel vreugde en troos in ons hartseer. Bertus gaan baie mooi na haar kyk. Hulle gaan mekaar se lewens aanvul en verryk. Saam gaan hulle op die grond rondkruip, saam gaan hulle speel, al is dit met poppe of die teestelletjie , saam gaan hulle lag, saam gaan hulle huil. Saam gaan hulle mis, saam gaan hulle verlang. Maar ek belowe vir Karla sal ons
van jou vertel.

Justine is a French name that never reached the popularity it deserves. Justine die wêreld het verseker nog nie genoeg van jou gesien nie.
Jy was ‘n te kort tydjie vir ons gegun, hoe graag sou ons almal
jou nog baie jare wou geniet.

Juwele is kosbaar. Wanneer mens ‘n kosbare stukkie juweel verloor,
is jy hartseer, ontsteld en kwaad. Soms kan mens daardie verlore stukkie juweel vervang … Justine jy is die kosbaarste juweel wat ons gehad het en nie kan vervang nie.

Justine, vir jou is ons baie lief en vir jou gaan ons bitter baie mis.

Justine jou plekkie is leeg! Ons mis jou lag, jou omgee, jou beautiful hart. Ons mis jou selfstandigheid, jou soms hardkoppigheid, maar tog jou deeglikheid van dinge doen. Ons mis die liewe Justine wat vir ons so lief was.

Ek belowe ons sal mooi na hulle kyk en van jou praat, vir Karla van jou vertel en jou menswees celebrate!

Ek is baie lief vir jou sussa en vir jou gaan ons bitter baie mis!!

Bestandele
160 g Botter
60 ml Gouestroop
1 Groot blik kondensmelk
1 Kondensmelkblik met kookmelk
6 X 250 ml suiker
250 ml koekmeel
2 ml kremetart
5 ml vanieljegeursel

Metode
1. Smelt die botter en gouestroop saam in ‘n groot dikboomkastrol oor lae hitte.
2. Voeg die kondensmelk en kookmelk by en meng.
3. Meng die suiker en koekmeel goed saam, voeg dit by die melkmengsel en meng deeglik.
4. Roer die mengsel tot voor kookpunt aanhoudend met ‘n eierspaan om te verhoed dat dide boom van die pot aanbrand. Voeg die kremetart by sodra dit kook.
5. Kook die mengsel sowat 25 tot 30 minute lank oor lae hiite (tot die sagtebal-stadium) en roer aanhoudend met ‘n eierspaan om te verhoed dat dit aanbrand.
6. Haal die mengsel van die stoof af en roer die vanieljegeursel by. Klop dit met ‘n houtlepe totdat dit begin styf word.
7. Gooi die fudge in ‘n gesmeerde bakplaat. Sny in blokkies voordat dit heeltemal hard is (na omtrent 1 uur).
8. Laat die fudge heeltemal koud word en set in die pan voordat jy dit uithaal (na sowat 4uur).

Uncategorized